|
Post by OscarWillebeest on Apr 3, 2008 2:44:28 GMT -5
Hulle was twee broers, amper bybels; en tesame het hulle met onderskeiding geveg teen die indringer van ver oor die see. En weereens, 18 jaar later het hulle nie vir ‘n oomblik geaarsel toe die vaderland homself op hulle beroep het in sy donkerste uur. Soos die ingebore helde wie hulle was het hulle die vyand aangepak, het hulle van die voorpunt af gelei… So-by-so dat hulle altwee as generals in hulle land se weermag aangestel is.
Die oudste een van die broers was 46, en die jonger ene 39 jaar oud. Daar is onder andere ‘n blom na die oudste ene vernoem, en sy naam is verewig met plekname selfs in Rusland! Ja, liedere is, en word steeds oor hom gesing, en inderdaad word hy selfs vandag nog wereldwyd beskou as ‘n ikoon van guerilla oorlogvoering!
Maar die jonger broer…. Jammerlik het hy vereensaam, verag deur sy volk as ‘n verraaier, en word steeds vandag op neergesien, meer as ‘n 100 jaar later. Sy ouer broer het gedreig om hom op sig dood te skiet, soos ‘n hond. Uiteindelik het hy as ‘n sosiale melaatse gesterf, is hy eenkant begrawe.
Tog, gesien in die lig van die huidige, is dit perdalks nodig vir introspeksie, en moet ons onsself miskien afvra: wie van die twee broers verdien watter etiket? Kom ons kyk dus weereens na die feite waarmee die geskiedenis toegelaat is om die gebroeders De Wet mee te omvou. Kom ons spekuleer oor wat die moontlike implikasies vir die Afrikanervolk sou wees indien ons die jonger Piet, instede van die ouer Christiaan se perd sou opgesaal het. Kom ons luister na wat die kenners te se het, en laastens, kom ons kyk of daar enige paralelle bestaan tussen die broers en ons eie optrede hier op die Woes.
Word vervolg: die broers se agtergrond, die uitbreek van die Anglo-boereoorlog, en hulle ernstige meningsverskil van 1900.
|
|
|
Post by OscarWillebeest on Apr 3, 2008 2:45:46 GMT -5
Verloop van Christiaan en Piet se lewens, tot en met die eerste uitval. 1838 was natuurlik ‘n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Afrikaner, want gedurende hierdie jaar vind die Groot Trek plaas. En 16 jaar hierna, in 1854, word daar in die omgewing van Dewetsdorp, in die destydse Oranje Vrystaat, die nimlike Christiaan de Wet gebore. Onderstrominge teen Brittanje was aan die orde van die dag, en in 1861 sien sy broer Pieter die eerste lewenslig. Rasegte bloedbroers was hulle, omtrent soos Dawid en Jonathan, tot op ‘n dag…..
As jong boere maak hulle tesame ‘n bestaan in die omgewing van Heidelberg, in toentertydse Transvaal, en dien albei as lede van dieselfde commando. Ook neem hulle gesamentlik deel aan die eerste Anglo-Boereoorlog gedurende 1881. Dit was dan ook gedurende die slag van Amajuba, op die 27ste Februarie dat beide broers hulleself onderskei het, en sodoende meegehelp het dat die Boere ‘n grootse oorwinning behaal. So-by-so dat beide, toe hulle later terug na die Vrystaat verhuis het, tot die Volksraad verkies is.
Bogenoemde is natuurlik ‘n goeie aanduiding dat altwee met die hoogste agting bejeen is, en in die volk se oe beskou is as dat hulle vir die Republiek se hoogste ideale, naamlik volgehoue onafhanklikheid van Groot Brittanje, en trou aan die Oppergesag gestaan het.
Maar, in Oktober 1899 breek die Boereoorlog uit, met Christiaan wat by die heilbron, en Piet wat by die Lindley kommandos aansluit. Beide het met durf deelgeneem aan die slag van Nicholsonsnek, en hiertydens is dan ook 850 Britse soldate gevange geneem. President M T Steyn, van die Oranje Vrystaat, was dan ook met reg erg be-indruk met viral Christiaan se leierseienskappe, en het hom natyds aangestel as veggeneraal (eenster) onder bevel van Generaal P A Cronje. Dit was gedurende Desember, 1899
Later, gedurende desember is ook die jonger Piet aangestel as veggeneraal, omrede hy met groot durf en onderskeiding deelgeneem het aan die veldslae te Vaalkop, en Ladismith. Hy was 39 jaar oud, en het hierna suksesvol saam met Generaal Koos de la Rey, en later broer Christiaan deelgeneem aan verskeie gevegte.
En steeds was die broers amper onafskeidbaar, beide onverskrokke, beide heel kapabele leiers, beide met die hoogste agting deur die burgers, asook die grootste respek deur hulle leiers bejeen. Bo alles was beide dan ook steeds bankvas in hulle oortuiging dat “verdomde Engelse” met mag en mening uit die republiek geweer moet word. Maar nie meer vir lank nie, want aanstons sou die haan driemaal kraai vir die jonger Piet…..
Ongeveer die middle 1900’s, na die Boere nie alle teenstand met sukses kon afweer nie, het Piet begin twyfel, en in Junie van daardie jaar bewerkstellig hy ‘n 6dag lange skietstilstand met Lord Methuen. Die burgers roep dan ook ‘n vergadering, en dis hiertydens dat die wesentlikheid van die twee broers se meningsverskille dan ook na vore kom.
Piet kryt vir Christiaan as leuenaar uit, omrede hy die burgers dan sou voorpraat omtrent hulp vanuit Europa, wat volgens Piet nie in ‘n miljoen jaar sou realiseer nie. Verderaan, aldus Piet, sal om met die oorlog voort te gaan niks anders beteken as die vaderland se totale ondergang nie. Buitendien is die menslike leiding, viral die vrouens en kinders beslis nie die sous werd nie. {En hier wil ek byvoeg dat Piet beslis ‘n punt beet gehad het wat die werklikheid aanbetref}
Nodeloos om te se dat Christiaan sy humeur net daar en dan verloor het, sy broer vervloek het, en ‘n meerderheidsstem aangevoor het om met die oorlog voort te gaan. Om Afrikaner te wees het destyds immers beteken dat al sou jy moontlik nie altoos die werklikhede onder oe kan sien nie, dit ‘n doodsonde is o mom besluite wat op beginsels gegrond is te herroep.
word vervolg..... Die finale breuk, Piet se oorgawe, en die "verraderlikheid" van Piet.
|
|
|
Post by OscarWillebeest on Apr 3, 2008 2:47:08 GMT -5
Op die 19de Julie van daardie jaar, in die omgewing van Lindley, kruis die twee broers se paaie weer, en hiertydens smeek Piet vir Christiaan om toe te gee dat die oorlog teen Brittanje nodeloos is. Tevergeefs, want Christiaan beskuldig hom dat hy mal is en dit is dan ook toe dat hulle paaie in verskillende rigtings begin vurk. Van nou af beywer die ouer broer homself dan met mening om die Engelse juk af te skud, terwyl die jonger broer in diepe depressie verval oor die pad vorentoe.
Vir Piet was dit genoeg, en op die 26ste Julie gee hy himself oor aan die Britte, te Kroonstad, met die verklaring dat die oorlog allenig geregverdig kan word op grond van sentiment en emosie, “die vloek van die Afrikanervolk.” En iewers op die slagveld merk Christiaan op: “Was hy eerder doodgebore!”
En Aldus is die tafel dus gedek vir ‘n tragedie wat homself reeds soveel male in die geskiedenis van die Afrikaner afgespeel het, en sou: met slegs die rolle van die hoofakteurs wat met verloop van die geskiedenis deur verskillende mense vertolk sal word.
Maar nog was het einde niet, want gedurende die Winter van 1901 begeef Piet homself in ‘n koers waarvoor die Afrikaner hom nooit sal vergewe nie: nie toe, of ‘n honderd jaar later nie, en wat sy oorgawe totaal en al sou oorskadu. Wat hy gedoen het was nie langer goed genoeg nie: want op hierdie dag neem hy die wapen op namens die Britse invaller, en dit teen die Boere! Ja, dit was op hierdie dag toe Piet vir die Engelse as verkenner en gids die slagveld betree het….
Wat geimpliseer het dat hy as ‘n verraaier deur sy eie mense gebrandmerk is, en as sulks op sig deur die Boere doodgeskiet sou word, hy en al die ander lede van die sogenaamde “vredeskomitee.” In 1902 staan hulle amptelik bekend as die Oranjerivier kolonie vrywilligers, en as medeleier, saam met Piet dien Stephanus Vilionel. In die destydse Transvaal staan hierdie burgers bekend as National Scouts, en is aangevoer deur die gewese boeregeneraal: Andries Cronje, broer van die boeregeneraal: Piet Cronje.
Piet het vir omtrent ‘n jaar lank ‘n klein salaries van die Britte ontvang, en is in 1929 oorlede as werd net 500 destydse ponde. ‘N uitgeworpene, feitlik alleen, in ‘n piepklein huisie, daar in Lindley. Christiaan, aan die ander kant, het nooit oorgawe aan die britte kon aanvaar nie, en was dan ook gedurende 1914 aan die voorpunt van die rebellie teen die Britse regering. Maar, sy statuur was van so ‘n aard, dat hy slegs 6 maande van sy vonnis uitgedien het, en op die 23ste Februarie, 1922 as ‘n volksheld te sterwe gekom het.
Wat ons, na al die jare, met die vraag laat: Moet ons, met die voordeel van tydsverloop, Piet steeds as ‘n volksverraaier uitkryt, of moet hy beskou word as iemand wie onselfsugtig opgetree het in die beste belang van die Boerevolk? En dan, is dit dalk net moontlik dat hy tog as ‘n morele, maar nie as ‘n feitelike verraaier bekleed moet word nie? En Christiaan? Was hy nie dalk die verkeerde ene nie, want seer sekerlik kon beide nie reg gewees het nie? Of, kon hulle? Verderaan moet elkeen van ons onsself die vraag afvra: Gaan ons die broers in die konteks van die verlede, of die hede beoordeel?
Om sake te vereenvoudig moet ons nie uit die oog verloor dat die destydse Oranje Vrijstaat in daardie dae ‘n soewereine, internasionaal erkende gebied was, en sy wette as sulks bindend op al sy inwoners was, insluitende Piet de Wet! En daarvolgens geoordeel beteken dit dat Piet ‘n verraaier was, finish en klaar! Nogtans is dit nie die einde nie… daar is meer…
Word vervolg...Generaal Smuts se opinie, morele teen-argumente, aangevul met 'n voorbeeld, morele regverdiging, Dr leopold Scholtz en Max du Preez se opinies...
|
|
|
Post by OscarWillebeest on Apr 3, 2008 2:47:43 GMT -5
Na die oorlog het general Smuts verklaar dat diegene soos Christiaan de Wet, en President Steyn (van die Oranje Vrijstaat) wie met volharding die stryd teen Brittanje gevoer het juis vir die Volk aantoon dat die Arikaner oor die nodige vermoe beskik om na die vredessluiting die Engelse se politieke, ekonomiese, en kulturele onderdrukking suksesvol te oorkom.
Maar natuurlik kan ons daarop antwoord dat as dit nie vir die sogenaamde “bittereinders” soos bv Christiaan was nie, die oorlog lank reeds be-eindig sou wees, en die Boere vanuit ‘n sterker posisie om vrede sou kon meeding, en die herstel van die Afrikanernasie dus ‘n minder moeilike taak sou wees.
Maar, hoe dit ookal sy, die gerespekteerde (in meeste kringe) joernalis, Max du Preez, tree toe tot die twis deur die gewese Suid Afrikaanse staatspresident, Mnr F W de Klerk as ‘n moontlike hedendaagse Piet de Wet voor te stel, wie die moed van sy oortuigings gehad het om die geskiedenis, die omstandighede van sy tyd korrek te intrepeteer, en die nodige stappe te neem om vreedsame voortbestaan van die verskillende bevolkingsgroepe te verseker. Wat volgens my beskeie mening niks anders is as om ‘n moderne konteks op die verre verlede af te dwing nie, sonder erkenning van die verskil in konteks. Dr. Leopold Scholtz, (koerantredakteur en professor in geskiedenis), aan die ander kant, bejeen Piet de Wet se optrede met niks anders as minagting nie. Onder andere wys hy op Generaal Stauffenberg se morele selfregverdiging om Adolf Hitler te vermoor. Heel tereg wys hy daarop dat hoe verkeerd Hitler ookal mag gewees het, die feit van die saak is dat hy wat Hitler was wetlik aan bewind gekom het en was! Nogtans vermaan Dokter Scholtz ons dat daar nogtans omstandighede mag voorkom waar morele oortuigings ‘n hoer etiek as landswette beklee. Die agbare professor bring as verdere argument die geval van die Nederlandse “verraaier,” Anton Mussert, te berde. Mussert se regverdiging was dat hy saam met die Duitsers teen sy vaderland geheul het ten einde sy volk van ‘n veel erger lot as Duitse onderdrukking te red. Maar, persoonlik reken ek dat die omstandighede, die regerings van die destydse Transvaalse en Vrijstaatse republieke kan kwalik met die Duitsland van die 1930 en 40’s vergelyk kan word, en dit is dus met Mussert wie Piet gemene sake moet maak, indien enigsins. Daardie beroemde Duitser van die 1800’s, Karl A Von Clausewitz het tereg geskryf dat oorlog om politieke redes gevoer word, en dus kan dit betwyfel word of verraaiers soos Piet die Britte se denkwyse enigsins sou be-invloed het. Maar, om terug te keer tot Duitsland van die laat 1930’s. Die Britse eerste minister, Chamberlain, se aanhoudende toegewings het absoluut geen verskil gemaak aan Hitler se intensies nie. Wat by ons dalk ‘n mate van simpatie met Piet se optrede kon laat, indien hy nie aktief die wapen teen sy eie mense opgeneem het nie! Sy ekskuus dat sulks was omrede hy sy Volk verdere leiding wou spaar kan dan ook deur sommige geredelik as blote selfregverdiging vertolk word. Die feit van die saak was dat daar op morele gronde ‘n onoorbrugbare verskil is tussen oorgawe, en aktief saam met die viand heul. Tog, Piet was geen pampoen nie, en by tye kontroversieel, met ‘n aggressiewe benadering tot die oorlog. Intelligent, gewild, kerkleier, lid van die Volksraad, en eens ‘n persoonlike vriend van president Steyn. Iewers moes daar iets oor sy lewe geloop het…. By nabetragting wil ek spekuleer oor hoekom die Boere die oorlog verloor het, en delf dus diep in my geheue tov die feite, soos verskaf deur Thomas Packenham in sy boek oor die Boereoorlog. Toe die oorlog uitbreek het die Britte slegs ongeveer 9000 soldate in die hele “Suid Afrika” gehad, waarvan die meerderheid voetsoldate was, teenoor die twee republieke se ongeveer 48 000 (waarvan die oorgrote meerderheid berede was, en beter bewapen!). Nou hoe het dit dan gekom dat die Boere die onderspit gedelf het? Persoonlik reken ek dat die Boere onmiddelik, met die aanvang van die oorlog die belangriker hawens, waaronder Kaapstag, Port Elizabeth, Durban, en ander moes inneem, en sodoende die Engelse verhoed het om versterkings te land! Maar, hulle het nie, met die gevolg dat die Britse oormag uitendelik ‘n kwartmiljoen getel het. Wat my noop om te verklaar dat ons heel moontlik die oorlog verloor het nog voor hy verklaar is…. En net sommiges, soos bv Piet dit betyds besef het…..
word vervolg..... Piet se brief aan Christiaan.
|
|
|
Post by OscarWillebeest on Apr 3, 2008 2:48:55 GMT -5
Piet se Brief aan Christiaan (My vrylike vertaling)
”My liewe Broer,
Ek verneem dat jy in jou toorn gedreig he tom my te skiet, glo vir hoogverraad. Mag God jou egter verhinder om meer bloed van die onskuldiges te vergiet! Toe ek besef het dat ons as volk nie langer sou kon staanbly teen die Britse oormag nie, het ek die president versoek om vrede te oorweeg, eerder as om die vaderland verder te ruineer, en die volk te laat verhongr. Hierna het ek en jy nog ‘n maand lank saam spandeer, waartydens ek besef het dat oorgawe ons enigste redding is. Hiertydens het ek nooit my plig versuim nie, soos in die geveg te Schietmekaar. Saam met Prinsloo het ek die vyand se kanonne bestorm, ten spyte van Froneman wat skandelik op die vlug geslaan het. Ten laaste het ek geen ander keuse gehad as om onder oe te sien dat ons ‘n verlore stryd voer, en dus het ek en van my manskappe oorgegee, is ons na Durban gestuur.
Die feit dat jy en Steyn hardnekkig volgehou het met ‘n guerilla-stryd, het my genoop om Lord Kitchener skriftelik, op die 11 de Desember, te versoek dat hy my toelaat om die burgers te velde tot ander insigte te probeer bring, aangesien daar op daardie stadium geen Vrijstaatse regering as sulks bestaan het teen wie ek verraad kon pleeg nie.
Is dit nie beter vir die Republieke om eerder bes te gee, as om totaal en al geruineer te word nie? Dit is immers wensdenkery om ons land moontlik weer in ontvangs te neem, met duisende inwoners wie deur die regering onderhou moet word: ‘n regering sonder een pennie, met miljoene ponde se skuld? ‘N onbegonne taak, selfs al sou ons hulp vanuit Europa ontvang! Nie eers Engeland is so waansinnig om derduisende van sy soldate op te offer, miljoene der miljoene te spandeer, en ons dan ons land op ‘n skinkbord te gee, asook die nodige fondse om na behore te regeer nie! Laat ons ons emosies eenkant laat, en die saak nugter beskou, dan sal jy sien dat dit vir ons volk beter sal wees om te skik, en lojaal aan die nuwe regering te wees. Waarna ons kan poog om selfbestuur te verkry, en sodra dit finansieel haalbaar is sal ons ons land vir alle praktiese doeleindes self bestuur! Dan sal ons kinders mos behoorlik onderrig wees, en die volk as ‘n nasie verenig. Sou ons egter toelaat dat die oorlog veel langer voortduur, sal ons as volk sodanig verarm dat ons bloot sal oorleef as ‘n werkersklas, en nie langer as ‘n nasie nie.
Ek verneem dat julle my nou beskuldig as sou ek deur die Engelse regering betaal word vir wat ek doen. Daarop se ek dat sowaar as wat daar ‘n God is, sal Hy my na regte beoordeel. Ook verstaan ek jy bejeen Lord Kitchener se aanbod, en my en ander sogenaamde “verraaiers” se bydraes as ‘n swakheid aan die kant van die Britte. Die waarheid is dat die Britte oortuig is dat hulle die land en sy mense oorwin het, en nou, in alle grootmoedigheid ‘n haalbare uitweg bied aan diegene wie steeds met die stryd besig is, ten einde verdure bloedvergieting te voorkom.
Glo my vry dat geen Engelse troepe huis toe gestuur word nie, maar dat derduisende steeds hier opdaag! Rakende die Vrijstaat tree jy niks minder as dwaas op nie! Is jy dan blind? Besef jy nie dat die Transvalers besig is om jou ‘n rat voor die oe te draai nie? En dit terwyl hulle nie eers ‘n tiende so hard veg soos jy nie! Transvaal is by verre nie tot die selfde mate as die Vrijstaat verwoes nie! En die Transvaalse generaals is op hierdie oomblik maar al te gewillig om best te gee, en wag slegs om te sien wat jy gaan doen. Die oomblik wat jy oorgee, gedood word, of gevange geneem word, sal hulle die wit vlag hys.”
Ns. Christiaan het die draer van hierdie brief deeglik per sambok afgeransel, en hom terug na Piet toe gestuur met die belofte dat hy hom wat Piet is op sig sal doodskiet, soos ‘n hond….
Graag erken ek hiermee die moeite waarmee verskeie skrywers die feite ge-boekstaaf staaf het, en wie se skrywes ek mildelik gebruik van gemaak het. By name noem ek Dr Leopold Scholtz, asook Max du Preez, en verskeie internet web blaaie
|
|